Thursday, April 18, 2013

Kop & Hart: Om te sterf voor jy sterf

2013-04-18 10:10
(Supplied)
Een van die grootste tragedies in die lewe is wanneer iemand voor sy tyd sterf.

En deur die jare het ek dit ongelukkig al baie gesien gebeur.

Dit is asof mense eenvoudig net opgee op die lewe, en dit terwyl hulle nog in die fleur daarvan is.

Want sien meeste mense soek veiligheid en sekerheid. En dit binne ‘n onveilige en onsekere wêreld.

Hulle soek altyd-geldende-antwoorde en uitgewerkte planne.

Daarom dat mense mure, grense en heinings oprig. Hulle baken af, kap en bou.

En dan binne hierdie begrensde plek, sê hulle selfvoldaan: “Nou is ek veilig!”

Die probleem hiermee is egter dat grense en mure inperk — toemaak en inhok.

Dit hou wel gevare en onsekerhede (tydelik) buite. Maar die prys wat jy moet betaal is gevangenskap.

Jy word ingehok en gevange geneem deur jou self-opgerigte mure.

Beknop, beperkend en sonder uitsig.

Wie kan sê wanneer word ‘n kamer ‘n tronk of ‘n groef ‘n graf?

Sir William Wallace (1270-1305), die Skotse vryheidsvegter het op ‘n keer hieroor gesê: “Every man dies. But not every man really lives.”

Miskien is dit wat gebeur as ‘n mens jouself agter mure van sekerhede en vooropgestelde idees toesluit. Jy hou op groei, jy stop ... jy sterf voor jy sterf.

Op diesulkes se grafsteen word daar dan iets geskrywe soos: “Begrawe op die ouderdom van 83, gesterf op die ouderdom van 38.”

Jalaluddin Rumi (1207-1273): “Out beyond ideas of wrongdoing and rightdoing there is a field. I’ll meet you there.”

No comments:

Post a Comment