Coba Odendaal, tydens haar agterkleindogter, Lanelle Peens, se onlangse doop.
Die gemeenskap van Vredendal in die
Wes-Kaap is geruk deur die nuus dat een van hul geliefde inwoners
Dinsdagmiddag in ʼn klein plaashuisie vermoor is.
Koba Odendaal (74) het saam met haar
dogter, Marita Mather, in ʼn tweeslaapkamerhuis langs ʼn rivier gewoon.
Marther het die huis by ʼn boer in die omgewing gehuur.
Mather is ʼn adviseur en werk ongewone
ure, het haar dogter Chantelle Peens, Woensdag aan Maroela Media gesê.
“My ouma was vroeër die oggend dorp toe en het ook by haar vriendinne en
haar niggie gaan kuier,” het sy gesê. Odendaal het vermoedelik
omstreeks 12:30 teruggekeer en is deur ʼn onbekende aantal aanvallers by
die huis oorweldig. “Sy was tydens die aanval alleen by die huis.”
Mather het haar ma se liggaam in haar
slaapkamer aangetref. Sy het in ʼn plas bloed gelê. Haar gesig was geswel
en sy het drie steekwonde in haar nek gehad. Sover daar vasgestel kan
word, is haar selfoon en beursie gesteel. Die aanvallers het ook die
huissleutels gesteel. Peens het gesê die polisie is nog op die toneel
vir verdere ondersoek. “Ons sal eers later weet of daar nog items
gesteel is,” het sy gesê.
ʼn Nadoodse ondersoek word Donderdag
gedoen om die oorsaak van Odendaal se dood te bepaal. “Die polisie
vermoed sy is met haar serp gewurg en sy het moontlik terugbaklei totdat
hulle haar met ʼn skerp voorwerp aangeval het.”
Mather bly tans by ʼn vriendin in die
dorp en beplan nie om verder in die huis aan te bly nie. “Sy staan sterk
in hierdie moeilike tyd,” het Peens oor haar ma gesê.
Peens het haar ouma as ʼn groot
Christen beskryf wat baie in haar gemeenskap betrokke was. “Sy het
absoluut voluit gelewe vir haar God, kinders, kleinkinders en
agterkleinkinders. Sy het foto’s van ons almal op haar selfoon gestoor,
en het gereeld haar agterkleinkinders se foto’tjies op die selfoon se
skerm gesoen.”
Odendaal was ook ʼn kraniger
naaldwerker en ʼn geliefde inwoner van Vredendal en George, die twee
dorpe waar sy die grootste deel van haar lewe deurgebring het.
Kapt. Frederick van Wyk, ʼn provinsiale
polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn
saak van moord. “Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis
geneem nie,” het hy gesê. Die ondersoek duur voort. Die polisie versoek
enigiemand wat hulle kan bystaan met die saak, om Crime Stop by 08600
1111 te skakel.
Odendaal se troosdiens vind Maandag om 10:00 uit die Vredendal NG Moedergemeente plaas.