Saturday, May 18, 2013

Boere Krisis Aksie (B.K.A.)

(Gordon) Met strykysters gebrand

Saterdag 18 Mei 2013

’n Vyfjarige meisie is langs ’n pad in Bronkhorstspruit gekry nadat haar aanneemouers tydens ’n plaasaanval aangerand en met strykysters gebrand is.

Johan van Wyk het gister gesê ná die aanval op sy skoonouers het die meisie, wie se naam nie bekend gemaak is nie, “ ’n flits gegryp en gehardloop.

“Ek het haar langs die pad gekry.”

Die meisie is ook deur die aanvallers geslaan.

Van Wyk wou nie meer sê van die aanval op sy skoonouers, Les (67) en Gayle Adlam (63) nie.

Les is in ’n ernstige toestand in die Wilgers-hospitaal in Pretoria opgeneem, terwyl sy vrou se beserings minder ernstig is.

Dit is vandag hul huweliksherdenking.

Die Adlam-egpaar se dogter, Claire van Wyk (32), het op Facebook geskryf: “Mense bid asb vir my pa en ma. Vanoggend aangerand in plaasaanval op balmoral pad. My pa se toestand is baie sleg. In Jesus se naam spreek saam met my genesing.

“Ek is nou in die ambulans saam my pa oppad wilgers toe. My ma agterna. Voel so magteloos.”

Sy het ’n paar uur later geskryf: “My ma is baie seer en blou maar geen frakture. My pa het geen breinbloeding! Omtrent al sy gesigsbene is gebreek en hy is nog nie by nie.”

Kapt. Sarah Mcira, polisiewoordvoerder, het gesê drie mans het omstreeks 03:15 ’n venster van die huis op die plaas by Onverwacht op die pad na Balmoral gebreek.

“Die mans het in die huis ingegaan en na die egpaar se slaapkamer gegaan. Hulle het die slapende egpaar wakker gemaak en hulle vasgebind.

“Hulle het geld geëis. Hulle het R10 000 en drie vuurwapens en ammunisie gevat.

“Die mans het die egpaar met strykysters gebrand en hulle met ’n ystervoorwerp geslaan.”

Na verneem word, het Les terwyl die polisie op die toneel was kort-kort sy bewussyn verloor weens sy beserings.

Hy is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem voordat hy na Pretoria oorgeplaas is.

Volgens Mcira is die vyfjarige meisie enkele kilometers van die plaas gekry en die polisie sal probeer vasstel presies hoe sy daar gekom het.

Mcira het gesê ’n verdagte is gistermiddag in Badplaas in die KwaMhlanga-omgewing vasgetrek en albei voertuie wat geroof is, is teruggekry.

No comments:

Post a Comment