Friday, May 3, 2013



Zambiër looi SA


Guy Scott
 ‘‘Ek haat Suid-Afrikaners.”

Dié uitspraak is gedoen deur Guy Scott, die Zambiese visepresident, in ’n onderhoud met die Britse oggendkoerant The Guardian.

Hy het ná sy terugkeer van die Thatcher-begrafnis met David Smith, die koerant se Suider-Afrikaanse korrespondent, gepraat. Die onderhoud is vandeesweek gepubliseer.

Scott (68) is wit en in Zambië gebore.

“Die Suid-Afrikaners is baie agterlik betreffende historiese ontwikkeling,” het hy aan Smith gesê. “Ek haat Suid-Afrikaners. Dis nie regverdig om dit te sê nie omdat ek van baie Suid-Afrikaners hou, maar hulle dink regtig hulle is kaas en eintlik was hulle die oorsaak van so baie moeilikheid in dié deel van die wêreld.

“Ek het ’n suspisie dat die swart mense die wit mense se voorbeeld volg noudat hulle die mag het. ‘Weet jy nie wie ons is nie, man?’ ”

Hy meen Suid-Afrika hoort nie in die Brics-geselskap (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) nie. “Ek het ’n hekel aan Suid-Afrika om dieselfde rede dat Latyns-Amerikaners niks van die Amerikaners hou nie.
Hy is eenvoudig te groot en te onsubtiel.”

Scott het ook ’n striemende persoonlike aanval op pres. Jacob Zuma gedoen. “Hy is nes (oudpres. FW) De Klerk. Hy sê aan ons: ‘Los Zimbabwe vir my.’ Verskoon my, maar wie de hel het julle bevry? Ek bedoel, hy lyk na ’n gemoedelike man, maar ek kry hom jammer oor sy raadgewers.”

Oor pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het hy gesê dié het die Zambiese regering meegedeel hy wil uittree.
Hy meen Mugabe wil die verkiesing verloor en die mag oordra. “Ek dink hy het dit bedoel of hy het gespeel met die idee om dit te bedoel. Miskien wou hy hoor hoe dit klink. Of iets.”

Volgens Scott bewonder elke goeie Afrika-nasionalis Mugabe. “Rassisme in Zimbabwe is ’n ernstige kwessie. Ek is op skool daarheen gestuur en dit was soos om in die Hitler-Jeug te wees: die teorieë oor swart minderwaardigheid en dié soort dinge.”

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê die Zambiese hoë kommissaris na Suid-Afrika sal ingeroep word om Scott se uitlatings te verduidelik, berig Leopold Scholtz.

No comments:

Post a Comment