Friday, May 3, 2013



Rower in huis geskiet


Die besluit om te skiet was nie maklik nie.

So het Henry Lubbe gister gesê nadat hy ’n rower in sy huis in die Sable Hills-landgoed, noordoos van Pretoria, geskiet het.

“Dit is nie maklik om te skiet nie. Dis nie maklik om so iets te doen nie. Dis nie iets waarvoor enigiemand vra nie,” het Lubbe gesê.

“Dit is ’n bestiering dat dit so afgeloop het en dat dit nie een van ons is wat seergekry het en dat ons nie misdaadslagoffers geword het soos die res van die land nie.”

Gistermiddag het die rower nog geleef, het sers. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, gesê.

Lubbe (39), eienaar van ’n voedselverwerkingsfabriek, het gisteroggend soos elke ander oggend omstreeks 04:00 wakker geword om vir werk reg te maak.

“Ek het geluide gehoor soos iemand wat aan die skuifdeur stamp,” het Lubbe gesê. “Ek het my vrou wakker gemaak en vir haar gesê om na my seun (6) se kamer te gaan en die deur te sluit terwyl ek ondertoe gaan om te kyk.

“Ek was amper by die laaste trap toe bestorm twee mans my van voor af en een van die kant af. Ek het begin skiet.”

Lubbe het vier skote afgevuur waarvan een ’n rower in die kop getref het.

Sy twee makkers het met ’n skootrekenaar en ’n paar bottels Jack Daniel’s-whisky by dieselfde skuifdeur uitgehardloop as waardeur hulle ingekom het.

Die gewonde man is per helikopter na ’n plaaslike hospitaal geneem. Volgens Maleka is hy onder polisiebewaking en kry mediese behandeling.

Die vermoede is dat die mans ’n heining van die landgoed geknip het om in te kom.

Volgens Lubbe verwag ’n mens nie om in ’n landgoed met baie veiligheidsmaatreëls ’n rower in jou huis sal betrap nie.

Hy skiet nie gereeld nie en het ’n vuurwapen net om selfverdedigingsredes.

“ ’n Mens moet doen wat jy moet, maar dit was nie maklik nie,” het hy gesê.

Maleka het die gemeenskap gevra om inligting wat die ander twee mans kan help vastrek by die Kameeldrift-polisiekantoor by 012 819 8210 aan te meld. 

No comments:

Post a Comment