Tuesday, May 14, 2013

Boere Krisis Aksie (B.K.A.)

(Hannes) IS DIT NET EK? *Ek weet ek gaan slae kry van die lede oor hierdie skrywe, maar dit moet gesê word*
Ek begin ernstige bedenkinge kry oor sommige mense in sogenaamde “wit plakkerskampe”. Die hemel weet, by BKA probeer ons soveel sukkelende mense as moontlik help, want ons het ‘n liefde en deernis vir ons volksgenote.
Maar verlede week se ANC-vergadering waar van hierdie mense met geel ANC T-hemde hulleself laat misbruik vir die ANC en die media laat ‘n bitter smaak in my mond. Is daar dan geen trots nie?
Verlede jaar het ons dieselfde geval gehad waar die Vryheidsfront hulp gebied het aan ‘n plakkerskamp in Pretoria – net sodat die inwoners saam met Helen Zille in blou DA T-hemde kan rondparadeer. Het hierdie mense geen trots nie?
Twee weke gelede het ons oor ‘n verdienstelike geval berig – net om uit Amerika die boodskap te kry dat $2000 (nagenoeg R20 000) ingesamel was en dat daar geen rekenskap van die geld gegee kan word nie. Is daar dan geen trots nie?
Ek weet persoonlik dat Sunette Bridges aangebied het om ‘n skoolkind se koshuis- en skoolgeld te betaal om vir haar ‘n toekoms te verseker – maar dat dit afgewys is, want die kind in die plakkerskamp is ‘n groter geldmaakmasjien. Is daar geen trots nie?
Ek het persoonlik gehelp om kruideniersware en klere in te samel vir ‘n kamp in Noordwes – en al die skenkings het in die “bestuurderes” se Koka Shop geeindig. Is daar geen trots nie?
Ek praat nie uit ‘n hovaardige posisie nie. My oupa was ‘n bywoner wat elf kinders in ‘n tent grootgemaak het. My pa was ‘n bywoner tot ek drie jaar oud was. Ekself was in die vroeë negentigs in ‘n ernstige finansiële verknorsing waar ek net twee beddens oorgehad het nadat die balju met my klaar was. Ek weet ook van die ongelooflike rol wat bywoners en agterryers gespeel het tydens die Groot Trek, die Vryheidsoorloë en veral onder die Kaapse Rebelle.
Twee Afrikaanse spreekwoorde bly in my kop vassteek: “Arm, maar ordentlik” en “Geld kan nie klas koop nie”.
Moenie dit vir ons onmoontlik maak om te help nie.

No comments:

Post a Comment