Thursday, May 2, 2013



Doodgeskiet in veld
Vrou beroof; kêrel vas ná skote ‘Hy het net wild geskiet.”
So het ’n polisiebeampte gesê wat gisteroggend op die toneel was oomblikke nadat ’n 25-jarige man glo ’n hawelose man (21) in ’n veld in die ooste van Pretoria doodgeskiet het.
Volgens die polisiebeampte het die man nie eens ophou skiet toe polisielede in dié veld langs die Engen-vulstasie voor January Masilelaweg (voorheen Genl. Louis Bothaweg) in is om ondersoek in te stel nadat hulle skote gehoor het nie.
Die polisiebeampte het gesê die man was in geen gevaar toe hy die skote afgevuur het nie.
Die skieter is in hegtenis geneem nadat die hawelose op die toneel dood verklaar is. Na wat verneem word, is hy van agter in die kop geskiet.



Terwyl die man langs die veld gestaan en met sy meisie, sy prokureur en die polisie gepraat het, het bosslapers hom uitgejou en hul vuiste in die lug gegooi.
Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê die man se 20-jarige meisie was gisteroggend net voor 09:00 die slagoffer van ’n gryprooftog. ’n Rower het in Garstfonteinweg net voor die N1-hoofweg die passasiersruit gebreek en haar handsak, wat voor op die passasiersitplek gelê het, gegryp en laat spaander. Die vrou se selfoon en iPad was in haar handsak.
Sy het na ’n nabygeleë vulstasie gery en haar kêrel gebel. Haar kêrel het die iPad op die internet begin naspeur. Die iPad se sein het hom gelei na die veld langs die Engen-vulstasie in Atterburyweg.
“Die man het hierheen gekom en met ’n vuurwapen in sy hand uit sy motor geklim,” het Weilbach gesê.
“Hy het in die veld ingestap terwyl hy die sein nagespeur het. Hawelose mense wat onder die bome gesit het, het hom gesien en begin weghardloop. Hy het skote in hul rigting afgevuur.”
Weilbach het gesê daar was toevallig polisiebeamptes by die vulstasie. Hulle het na die veld gehardloop en die skietery stopgesit, het sy gesê.
Die polisiebeamptes het toe gesien een van die bosslapers is geskiet en lê in die stormwatervoor wat onderdeur Atterburyweg loop. Dit is nie bekend of die hawelose man een van die grypdiewe was of nie.
Die polisie het op die skieter se vuurwapen beslag gelê.
Volgens Weilbach het ander polisiebeamptes intussen na die grypdiewe gesoek en hulle is in hegtenis geneem.
Dié vier mans, van 16 tot 30 jaar oud, het die iPad in hul besit gehad toe hulle gevang is, het Weilbach gesê.
Die skieter sal na verwagting môre in die Pretoriase landdroshof verskyn. Christo Bester, die man se prokureur, het gesê hulle gaan nie nou kommentaar lewer nie. Nóg Bester nóg die polisie wou die man se naam bekend maak.

No comments:

Post a Comment