Thursday, May 2, 2013


Nuuskommentaar: Hulle lieg so lekker want hulle vlieg so lekker

Dié voertuie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het na bewering die Gupta-familie na Sun City vergesel. Foto verskaf.
Miskien nie doelbewuste leuens nie, maar ‘n ongekende blaamverplasing oor die insident by die Waterklooflugmagbasis waar ‘n huurvliegtuig met huweliksgaste vir die Gupta-familie geland het. Die hoofseremonie vind Donderdag by Sun City plaas.
Na agt ure se ontkenning dat die weermag toestemming vir die vliegtuig se landing gegee het, is egter erken dat toestemming verleen is dat ‘n vliegtuig wat hoë regeringslui, waaronder ministers en diplomate aan boord, by Waterkloof kon land.
En wie ook al die amptenaar of amptenare is wat die besluit geneem het, gaan in alle waarskynlikheid ‘n dik rooi tapyt tegemoet nadat al drie afdelings van die ANC se drieparty-alliansie die voorval gekritiseer het. Maroela Media het vanoggend berig dat die hoof van staatsprotokol, Bruce Koloane, op verpligte verlof geplaas het, vermoedelik oor dié saak.
Intussen berig Nuus 24 dat pres. Jacob Zuma vandag self as eregas by die troue sou wees, en dat hy per helikopter daarheen gevlieg sou word. Die regering het egter na berig word gisteraand ‘n noodvergadering oor die kwessie gehou, en dit is onseker of Zuma se bywoning nog gaan plaasvind.
Van die kritiek wat nou oor die voorval uitgespreek word, klink weliswaar effe na die dam onder die eend se stert uitpluk – veral as in ag geneem word hoeveel ander gevalle al voorgekom het waar belastingbetalersgeld bedenklik aangewend is. Cosatu het die stelling gemaak dat die voorval ‘n verleentheid vir Suid-Afrika is, maar die buitelandse pers swyg amper volledig hieroor. Die Times of India het egter ‘n feitelike berig gedra, en onder meer gemeld dat die gaste heelwat Bollywoodakteurs en -sangers insluit. In teenstelling hiermee het die buitelandse media heelwat dekking verleen aan die onlangse besoek van ANC-hooggeplaastes aan oud-president Nelson Mandela, en beskryf dit as misbruik.
Die voorval waar Julius Malema, toe nog president van die  ANC-jeugliga, gesê het hy sal doodmaak vir Zuma, en Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu soortgelyke woorde geuiter, was tydens die amptelike provinsiale Jeugdagvieringe in ThabaNchu in 2008. Nie Zuma, toe net president van die ANC, of Malema of Vavi het toe enige regeringsampte beklee nie, maar het tog in hul  ANC-hoedanighede as die sprekers by amptelike verrigtinge opgetree. Mense is op staatskoste van heinde en verre met busse aangery. Hieroor het die destydse Openbare Beskermer ‘n lamlendige uitspraak gelewer.
In ‘n land waar gunslone en nepotisme hand-aan-hand loop, en die grense tussen party en regering tot nadeel van die belastingbetaler geërodeer word – presies wat is nou so uitsonderlik aan die Gupta-insident?
  • Groot gewag is gemaak daarvan dat staatshulpbronne blykbaar ingespan is om die privaat gaste na ‘n privaat huweliksonthaal te fasiliteer. Dit is taamlik duidelik dat die polisie behoorlik in die saak geken, en betrek is, deur konvooie te vergesel, en tydens die troue ‘n groot teenwoordigheid by Sun City te hê. Indien die Indiese Hoë Kommissaris die SANW  mislei het deur te versuim om te meld dat die ministers en diplomate nie regeringsgaste is nie maar na ‘n private huweliksonthaal onderweg is, en dat die gaste ook private gaste insluit, is dit vir Indië ‘n diplomatieke verleentheid en sal die Hoë Kommissaris waarskynlik teruggeroep moet word.
  • Groot gewag word daarvan gemaak dat die lugmagbasis ‘n nasionale sleutelpunt is, en veiligheidsrisiko’s sou inhou. Maar hoeveel van ‘n veiligheidsrisiko hou ‘n vliegtuig vol skatryk en diplomatieke huweliksgaste uit Indië nou werklik in? Buitendien is die OR Tambo-lughawe, soos alle internasionale lughawens in Suid-Afrika, ook nasionale sleutelpunte, saam met nog sowat 200 ander sleutelpunte wat geheim gehou word, en waarvan die meeste nie aan die staat behoort nie. As die Guptas van die Pilanesberg- of Mafikeng-lughawens gebruik gemaak het, waar die nodige doeanepersoneel gestasioneer is, sou hulle steeds van ‘n nasionale sleutelpunt gebruik gemaak het.
  • Groot gewag word gemaak dat benewens die feit dat daar volgens Binnelandse Sake paspoortbeheer toegepas is, daar nie doeanebeamptes aan diens was wat geloer het na waar die staat kon aas aan ‘n aksyns-inkomste nie. Die gaste is immers ryk, en op pad na een van Suid-Afrika se rykste families se huweliksonthale, en ‘n stewige trougeskenk of twee sou nie ondenkbaar wees nie. Maar weeg dié potensiële verlies aan inkomste enigsins op met die daaglikse lang vingers wat amptenare inspan?
Natuurlik is verkeerd opgetree, selfs al het die Indiese Hoë Kommissaris (toevallig ook ‘n Gupta) dit gereël en al was daar regeringslui en diplomate saam met die ander gaste aan boord. Dit sou op liederlike misbruik neerkom. En hulle moet weer terug, en dit is nodig dat bitter vinnig vasgestel word wat presies gebeur het, en wat nou moet gebeur om ‘n herhaling te voorkom voor die gaste nog ‘n sent staatsgeld onregmatig verteer, en vertrek.
Dit is baie duidelik hoekom opposisiepartye soos valke op die saak sou toesak. Benewens die geleentheid om goeie publisiteit te kry oor hoe gekant hulle teen misbruik en vergrype is, speel die feit dat die Gupta’s en Zuma vriende is, dat die Gutpa’s die New Age besit, dat die staat swaar met advertensies daarin belê, en dié koerant ‘n andersklinkende politieke stem as die geykte (sommiges sou sê pro-DA-stem) laat hoor, heel moontlik ook ‘n rol.
Selfs al sou die opposisiepartye dit ontken, en dan nog die waarheid praat ook, bly dit steeds op die oog af lyk of die Gupta’s se bande met Zuma ‘n rol speel in die opposisiekabaal. Die Times of India beskryf die New Age as “said to be” ‘n ANC-mondstuk.
Wat egter op die oog af vreemd voorkom, is hoekom die drieparty-alliansie so mond uitspoel oor die affêre. Gestel Zuma het self die jawoord gegee? Of het hulle eers by die president seker gemaak dat hy niks weet nie, en dit ook nie “gemagtig” het nie?
Min kiesers, en waarskynlik ook bitter min politieke ontleders sal oortuig word dat die ANC nou deur ‘n vlaag van wetsgehoorsaamheidsbesef oorval is.
‘n Vergesogte gedagte is dat dit net nie goed by die armes en werkloses sou afgaan dat die ANC en sy kommunistiese alliansievennote op Werkersdag ‘n opsigtelike voortrekkery van rykes sou probeer goedpraat of regverdig nie. Die berig in die Times of India adem duidelik hierdie sentiment.
Dit is bekend dat nie alle leiers binne die alliansie wat voorheen so bereid was om dood te maak vir Zuma, meer so danig is oor hierdie eertydse uitsprake van hulle nie. Van hulle het intussen heeltemal in die anti-Zuma-kamp beland, en Zuma is nou soos stadige gif besig om hierdie teenstanders uit te werk. Maar die drie persone wat nou namens die alliasie se drie organisasies die voorval veroordeel het, tel onder Zuma se mees getroue imbongi’s. Is hulle soos kiewiete wat aankomelinge met misleiding van hul neste probeer weglei, wat nou ook enige suspisie oor Zuma van die speelveld af probeer kry?
Indien wel, sal dit ook ’n nuwe strategie wees. In die verlede was die houding eerder om Zuma se flaters te probeer goedpraat.
Die verhaal sal nou waarskynlik vinnig ontplooi, sodat die owerhede reg sal wees om die bruilofsgaste se vertrek presies volgens die boek te laat plaasvind. Dit lyk nie of hier weer ‘n gepoogde toesmeeraksie gaan wees soos met Nkandla nie. Maar niks is gewaarborg nie.
En kan die belastingbetalers hoop dat die alliansie se reaksie daarop dui dat ons eie ministers se ritse oorsese reise om met troppe amptenare konferensies en vergaderings te gaan bywoon, maar op die oog af na betaalde vakansies lyk, ook nou onder die vergrootglas gaan beland?
‘n Paar interessante dae lê voor.

No comments:

Post a Comment