Thursday, May 2, 2013



Kaapse leerkragte ruk op na parlement

KAAPSTAD. – Duisende Wes-Kaapse leerders sal vandag sonder ’n onderwyser in die klas wees wanneer lede van die onderwysvakbond Sadou na die parlement opruk.“Die optog is wettig,” het Sadou se provinsiale sekretaris, Jonavon Rustin, gesê. “Onderwysers het reeds bespreek hoe om die verlore skoolwerk in te haal.”Die optog sal om 11:00 buite die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in die Keizersgracht begin en in Darlingstraat af na die parlement beweeg. ’n Memorandum sal aan ’n verteenwoordiger van die parlement asook die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) oorhandig word.Lede van Cosatu sal ook aan die optog deelneem en ’n beroep is op hoërskoolleerders gedoen om by die optog aan te sluit.Daar is sowat 13 000 Sadou-lede in die Wes-Kaap, met die grootste takke in Khayelitsha (1 600 lede), Nyanga (800 lede) en Mitchells Plain (600 lede).Die optog word onder meer gehou om die publiek se aandag te vestig op Sadou se versoek dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, en die direkteur-generaal van onderwys, Bobby Soobrayan, moet bedank. Sadou is ontevrede omdat Motshekga en Soobrayan nie ’n ooreenkoms oor vergoeding vir die nasieners van antwoordstelle nakom nie.
Die WKOD het ’n beroep op alle leerders gedoen om skool toe te gaan.

No comments:

Post a Comment